Hugenote Vereniging van SA
Die Méreau
. 
Die méreau (meervoud méreaux) is 'n muntvormige onderskeidingsteken wat die Hugenote in Frankryk vanaf die 1550's tot die middel van die 19de eeu algemeen gebruik het. Gedurende nagmaal het 'n ouderling die méreaux voor die diens uitgedeel aan elke lidmaat wat toegelaat is om die sakrament van die nagmaal te gebruik. Ander, wat nie getrou kerkdienste bygewoon het of vanweë 'n ander rede nie toegelaat was om die nagmaal te gebruik nie, het nie 'n méreau ontvang nie. Gedurende die diens moes elke lidmaat sy méreau teruggee aan 'n ander ouderling wat langs die nagmaaltafel gestaan in ruil vir die sakramente van die brood en wyn.

In ongeveer 1651 het Calvyn in 'n  "brief aan die gelowiges in Frankryk" hulle aangemoedig om die méreaux in gebruik te neem. Die gebruik van hierdie kenteken het algemene praktyk vir die volgende 200 jaar geword, en het gedien as 'n bewys van die lidmaatskap van die Protestantse geloof en vir toelating tot sy sakramente, sowel as 'n geheime simbool van die solidariteit van die gelowiges.


Voor- en agterkant van die Méreau kenteken van die Kerk van  l'Agenais, 16de eeu. 
Die muntkant toon Christus, geklee soos 'n herder wat oor Sy kudde waak.

Gedurende die 1680's tydens die grootskaalse vervolging van die Hugenote deur die Rooms Katolieke, was die mereaux gebruik as uitkenningsteken om enige dragonder of Katolieke spioen te verhoed om die geheime kerkdienste by te woon. Hugenote moes hul Méreuax by kerklike byeenkomste toon as bewys van hul lidmaatskap van die Protestantse kerk. Na die herroeping van die Edik van Nantes het baie Hugenote kerke voortgegaan om dit te gebruik, ook in lande buite Frankryk waarheen Hugenote gevlug het, insluitende die Threadneedle Street Kerk in London waar dit tot 1692 in gebruik was.

Selfs hierna was dit nodig om versigtig op te tree. So laat as 17 Desember 1754 beveel die Orde van die Colloque du Bordelais, Art. 7, XVII, die volgende: "Aangesien ons baie versigtig moet wees en voorsorg tref, sal elke lidmaat 'n bepaalde merk of kenteken ontvang, wat by die plek van byeenkoms oorhandig moet word. Diegene wat daarsonder is, sal nie toegelaat word  nie".

Die méreaux was normaalweg sirkelvormig, behalwe dié van Nimes, wat ovaalvormig was. Die groottes het verskil, maar was gewoonlik 30 mm in deursnit. Ook die naam, motief en inskripsies het plaaslik gevarieër omdat verskillende gietvorms gebruik was om die méreaux te vervaardig.  In Poitou het dit as marques bekend gestaan, in Languedoc as marreaux, en in Angoumois asmarrons. Die meerderheid was van lood of edeltin (piouter) gemaak, maar soms is leer, byewas of selfs glas gebruik.

Wat die motief op die muntkat betref, was daar twee tipes: "le type au berger" (herder tipe, hierbo getoon) en "le type à la coupe" (koppie tipe), afhangende van die uitbeelding. Om die méreau hierbo word Christus uitgebeeld as 'n herder, met 'n staf in Sy linkerhand en 'n trompet in Sy regterhand. Twee vyebome word weerskante van Christus getoon, met die kruis en vaandel agter, en 'n kudde skape, as versinnebeelding van die gelowiges, aan Sy voete.

Die agterkant van die méreaux toon gewoonlik 'n Bybel wat oopgeslaan is by Lukas 12:32" "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die Koninkryk aan julle te gee". Bokant die Bybel is 'n simboliese skynende son en ses sterre