Hugenote Vereniging van SA
Hugenotekruis
Die Bydrae van die Hugenote in Suid-Afrika

Deur H.C. Viljoen
Hugenote- 
vanne met 
nasate in 
Suid-Afrika:

Avicè 
Bastiaans Bisseux 
Blignault 
Briet 
Bruére 
Buisset 
Carnoy 
Cellier 
Cochet 
Cordier 
Costeux 
Courbonne 
Couteau 
Couvret 
Cronier 
d'Atis 
De Bus 
De France 
DeGrave 
De Haas 
De Lanoy 
Delporte 
De Péronne 
De Savoye 
Des Prez 
Des Ruelles 
De Villiers 
De Vos 
Du Buisson 
Dumont 
Du Plessis 
Du Puis 
Durand 
Durier 
Du Toit 
Eloy 
Faure 
Foucher 
Fourdrinier 
Fourié 
Gardé 
Gardiol 
Gaugh 
Goudalle 
Grange 
Grillon 
Guilliaumé 
Hugot 
Jacob 
Joubert 
Jourdan 
La Batte 
Labuscaigne 
Le Clercq 
Le Febvre 
Le Févre 
Le Grand 
Le Long 
Le Riche 
Le Roux 
Le Sueur 
Lombard 
Lorée 
Malan 
Malherbe 
Marais 
Maré 
Marguerat 
Martin 
Martinet 
Meinard 
Mellét 
Menanteau 
Meyer 
Mille 
Mouton 
Mouy 
Naudé 
Néel 
Niel 
Nourtier 
Perrotette 
Petel 
Pinard 
Pochox 
Prévost 
Rétif 
Richarde 
Rogier 
Roi 
Roulain 
Rousseau 
Roux 
Sénécal 
Seugnet 
Sézille 
Simond 
Souchay 
Soullier 
Taillefert 
Terreblanche
Terrier 
Therond 
Verdeau 
Villion 
Viret 
Vitout 
Vivier 
Wibaut

 Die Hugenote wat teen die einde van die 17de eeu na die Kaap van Goeie Hoop verhuis het, het slegs ‘n breukdeel verteenwoordig van die groot Protestantse uittog uit Frankryk na die Herroeping van die Edik van Nantes in 1685. Tog was hulle getalle groot genoeg om ‘n sterk invloed op die jong Kaapse nedersetting uit te oefen. Reeds in 1671 arriveer die eerste Franse Hugenotevlugteling, Francois Villion (later Viljoen), aan die Kaap. In 1686 kom die broers Guillaume en Francois du Toit aan. Nadat die hoofstroom Hugenote in 1688 – 1689 hier aangekom het, het hulle ongeveer een-sesde van die vryburgerbevolking uitgemaak, waarna hulle getalle steeds drupsgewyse tot die beëindiging van staatsondersteunde emigrasie in 1707 toegeneem het.

'n Volledige naamlys van die Hugenote wat na die Kaap verhuis en nasate in Suid-Afrika het, verskyn in die kolom links. Nie al hierdie vanne word vandag in Suid-Afrika aangetref nie, aangesien 'n hele aantal Hugenote stamouers slegs in die vroulike lyn voortgeplant het.

Die voornemende setlaars is slegs streng noodsaaklike bagasie toegelaat. Aan die Kaap was van hulle verwag on 'n bestaan uit veral die landbou, maar ook die handel of enige ander bedryf te maak; indien deur eersgenoemde, sou hulle vry plase ontvang, en gereedskap, saad en vee sou aan hulle gegee word, waarvan die koste mettertyd aan die Kompanjie in koring of enigiets anders terugbetaal moes word.

WingerdDie VOC het Hugenote aangemoedig om na die Kaap te emigreer omdat hulle dieselfde geloofsoortuiginge gehad het en op grond van die feit dat baie van hulle oor goeie landboukennis beskik het. Aanvanklik was daar nie van hulle verwag om spesifiek tot die wynbedryf toe te tree nie, maar veral om koring te saai en met skape te boer. Laasgenoemde sou in elk geval gouer 'n inkomste lewer as wat met wingerdbou die geval sou wees. Hulle, maar veral hul nasate, het bewys gelewer van hulle hardwerkendheid wat gelei het tot ‘n groot toename in voedselproduksie, maar later ook die verbetering van Kaapse wyne se gehalte. Verskeie landgoedere dra vandag Franse name wat herinner aan die besondere bydrae wat die Hugenote op die gebied van wynbou gelewer het.

Toe John Ovington die Kaap in 1693 besoek het, kon hy skryf:

“Hulle wingerde is oor ‘n gebied van meer as vyf en sewentig Engelse myle aangeplant en hulle sien steeds groot stukke onbewerkte grond voor hulle. In hierdie distrik teel hulle vee, saai hulle koring, plant wingerdstokke en verbeter hulle alles nougeset tot die beste voordeel … Hul druiwestokke, wat hulle spoedig vermeerder het tot ‘n groot verskeidenheid, kan nou die skepe ook voorsien…”
‘n Groot aantal Hugenote is gelys as ervare “wingerdsnoeiers”. Die Die Villiers broers in besonder het aan die Kaap aangekom met ‘n reputasie vir wingerdbou en wynmaak.  Deur die jare het die De Villiers-broers in totaal meer as 40 000 wingerdstokke aan die Kaap aangeplant. Hulle het van die oorspronklike grond wat aan hulle toegewys is (wat hulle La Rochelle genoem het) na individuele toekennings naby Franschhoek getrek: Bourgogne, Champagne en La Brie.

Die Hugenote het egter ook ‘n breër erfenis nagelaat. Duisende nasate dra vandag met waardigheid vanne waarvan die spelling onveranderd uit hulle oorspronggebiede nagelaat is, soos De Villiers, Malan, Du Toit, Du Plessis, Du Preez en Malherbe of wat verafrikaans is, tot byvoorbeeld Viljoen, Cronjé, Pienaar, Retief en Senekal. Sekere voorname wat onder die Hugenote gewild was het hardnekkig in Suid-Afrika bly vassteek, veral mansname soos Francois, Pierre, Etienne, Jacques  en Louis. Berekeninge toon dat die Hugenote se bydrae tot die samestelling van die Afrikanervolk sowat 24% bedra. Nasate is trots op hulle voorvaders wie se geloofsoortuiging hulle erns was en waarvoor hulle baie opgeoffer het en bereid was om te ly.

Die Hugenote word gekenmerk aan hulle inherente trots, hardwerkendheid en eerlikheid. Hoewel hulle aanvanklik hulle eie identiteit wou behou, het hulle tog later vermeng met ander koloniste in Suider-Afrika om slegs Suid-Afrikaners te word. Binne twee geslagte na hul aan koms aan die Kaap het selfs hul taal, Frans, grootliks uitgesterf.

As groep het die Hugenote op betreklik vroeë stadium ná die volksplanting hier aangekom toe die blanke bevolking ook nog relatief klein was. Wat hulle in hul eie vaderland as kinders van die Hervorming beleef en ervaar het, het hulle as geestesgoed met hulle saamgebring.

Johannes CalvynSeker die belangrikste invloed wat hulle in Suid-Afrika gehad het, is te vind in die feit dat hulle, soos hul Hollandse voorgangers, draers van die Calvinisme was. In sy werk Het leven van Johannes Calvijn kom D’Arbez tot die slotsom: 

Toch, nergens op aarde leeft het werk van Calvyn sterker door dan in Zuid-Afrika, waar de geest van Calvyn nog niet verswakt is door den invloed van de twintigste eeuw, zoals maar te dikwels het geval is geweest, en nog is, in de landen van Europa”.
Etlike skrywers noem allerlei kenmerke in die Afrikanervolk wat toegeskryf moet word aan die invloed van die Hugenote: fisieke kenmerke soos ‘n donkerder gelaat en swart hare, die opgewekte lewenshouding, uithouvermoë, artistieke sin, individualisme en onafhanklikheidsin, liefde vir persoonlike en politieke vryheid, wellewendheidsvorme, humor en blymoedigheid, vermoë om ‘n plan te maak. 

‘n Opname gepubliseer in die Sunday Times Magazine van 4 Oktober 1981 het aan die lig gebring dat daar tussen die eerste 36 talrykste blanke families in Suid-Afrika nege Hugenote-vanne is. Hulle is die families Nel, Du Plessis, Coetzee, Fourie, Du Toit, Le Roux, Viljoen, Marais en Du Preez. In die eerste vier dele van die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek is daar artikels oor 25 persone met die van De Villiers, sewentien oor Du Toits, twaalf oor Malans, nege oor Jouberts en agt oor Viljoens. ‘n Mens tref inderdaad die name van Hugenote-afstammelinge aan onder die leiers en presteerders op elke lewensgebied in Suid-Afrika – godsdienstig, maatskaplik, ekonomies, kultureel, navorsing en ontwikkeling op die gebiede van die ingenieurswese, natuurwetenskappe, landbou, die sport en die politiek; as weermagleiers en as staatshoofde; as digters en as skrywers.

Die Franse Hugenote het inderdaad ‘n direkte en indirekte erfenis in Suid-Afrika nagelaat. Hulle het nie as ‘n afsonderlike, duidelik aanwysbare groep bly voortbestaan nie. Reeds vroeg in die agtiende eeu is hulle as gevolg van destydse beleid en getalleminderheid in die bevolking aan die Kaap opgeneem. Maar hoe gering ook al in getalle, het hulle nietemin in Suid-Afrika op alle gebiede – ekonomies, opvoedkundig, tegnologies, landboukundig, kultureel, kerklik, godsdienstig, en so meer – ‘n waardevolle bydrae gelewer in die beginjare van die vestiging aan die Kaap van Goeie Hoop.

Die Hugenote se nalatenskap is vliedend: met die verloop van jare het navorsers verniet gesoek na ‘n duidelik Franse invloed onder die Kaapse koloniste, en slegs die name van families en plase bly oor. Watter bydrae die Hugenote ook al gemaak het, word nie meer afsonderlik van hul mede-koloniste se bydrae onthou nie. Maar die Hugenote se sin vir waardes leef voort, en die romantiek klou steeds aan daardie Franse plaasname in die Wes-Kaap wat aan die vlugtelinge herinner. Niemand sê dit beter as Maurice Boucher in sy "French Speakers at the Cape" nie:

Wat van blywende waarde is, is die trotse erfenis van mans, vroue en kinders wat gely het vir ‘n saak en die bannelingspad gevolg het om hulle geestelike integriteit te behou. Dit was sekerlik waar van die grootste getal vlugtelinge, en die verlange wat hulle moes gevoel het vir die land wat hulle vir ewig verlaat het word weerspieël in die name wat hulle gekies het vir die plase wat hulle langs die heuwels van die Wes-Kaap aangelê het: Languedoc en Provence, La Brie, Calais en Cabrières; en ook ander wat vir hulle die tonele van hul kinderdae en die wortels waaruit hul ontspring het, in herinnering geroep het.

AANBEVOLE SKAKELS NA HUGENOTE WEBWERWE

Verwysings:

Pieter Coertzen: Die Hugenote van Suid-Afrika 1688-1988, Tafelberg Uitgewers 1988 
Lynne Bryer en Francois Theron: Die Hugenote en Hul Erfenis, Chameleon Press 1987 
JLM Franken: Die Hugenote aan die Kaap, Staatsdrukker Pretoria, 1978

E-pos