Hugenote Vereniging van SA
Die oorkoms en vestiging van die Hugenote aan die Kaap van Goeie Hoop

Op 22  Oktober 1685  is die Edik van Nantes, wat in  1598 uitgevaardig is, herroep.  Die Edik het aan die Hugenote, met hulle gereformeerde geloofsoortuigings, ‘n bestaansreg in Frankryk gewaarborg. Deur die herroeping is die gereformeerde geloof in Frankryk verbied en die Hugenote vervolg, en selfs vermoor.  Duisende Hugenote het uit Frankryk gevlug.  Die meeste het in Nederland ‘n nuwe tuiste gevind.

Die Hugenote se vlug na Suid-Afrika het nie, soos algemeen aanvaar word, slegs in die jare 1688 tot 1689 plaasgevind nie. Oor ‘n tydperk van meer as ‘n driekwart eeu het hulle hulself in die Kaap kom vestig, ofskoon die hoofstroom gedurende dié twee jaar hierheen verhuis het.

Interessant is dit dat die eerste Hugenoot wat voet aan wal in Tafelbaai gesit het, Maria de la Quellerie, die eggenote van Jan van Riebeeck, was. Sy het egter net vir 10 jaar aan die Kaap vertoef en het in 1662 saam met haar eggenoot vertrek

Die heel eerste Hugenoot wat hom aan die Kaap kom vestig het, was Francois Villion (Viljoen) wat in Oktober 1671 aan die Kaap gearriveer het. In 1685 arriveer Jean de Long (de Lange) en sy gesin aan die Kaap, en die volgende jaar die broers Guillaume en Francois du Toit. Eers twee jaar later het die georganiseerde staatsondersteunde massa-emigrasie plaasgevind.

Op 3 Oktober 1685, maw nog vóór die herroeping van die Edik, het die Here XVII, met hulle uitgebreide handelsbelange, besluit om ‘n aantal koloniste na die Kaap van Goeie Hoop te stuur.  Belangrik was dat Franse vlugtelinge, maw Hugenote, ook deel van hierdie koloniste kon wees.  Slegs drie of vier Franse was egter teen 1685 bereid om na die Kaap toe te kom. Toe die besluit van die Here XVII in 1687 herhaal is, was dit ‘n ander saak.  Veel meer Hugenote was nou bereid om te gaan.  Uiteindelik sou daar tussen 1688 en 1689 ongeveer 175 Hugenote hulle aan die Kaap vestig as deel van die amptelike kolonisasie poging van die Here XVII.  Ons weet dat daar teen 1729 ongeveer 279 Franse aan die Kaap was

Die eerste skip met Hugenote aanboord wat op 26 April 1688 in Tafelbaai aangekom het, was die Oosterland.  ‘n Ander skip, die Voorschoten, het reeds op 13 April Saldanhabaai binne gevaar om skuiling te soek teen ‘n sterk wind.  Onder sy passasiers was Charles Marais en sy gesin, Philippe Fouche met sy vrou en kinders, Jacques Pinard, Jean Leroux en Gideon Malherbe.  Die ander skepe wat die grootste groep Hugenote tussen 1688 en 1689 na die Kaap gebring het, was die Borssenburg, De Schelde, die Berg China,die  Zuid-Beveland en die Wapen van Alkmaar.  Aanboord van die Wapen van Alkmaar, wat op 27 Julie 1688 uit Texel vertrek het en op 27 Januarie 1689 in Tafelbaai aangekom het, was daar veertig Hugenote aanboord.  Na Januarie 1689 sou daar nog verskeie kleiner groepe Hugenote by die Kaap aankom.  Al die skepe van hierdie eerste vloot het uit Texel in Nederland wegvaar, al langs die kus van Europa en Afrika af, tot by Tafelbaai – die destydse verversingspos aan die suidpunt van Afrika.

In 1707 het die staatsgesubsideerde emigrasie tot ‘n einde gekom, maar het enkele Hugenote nog op eie stoom na die Kaap gekom, waaronder: 1710 – Pierre Labuschagne; 1717 – Anna Maria Bacat; 1718 – Jacques Naudé; 1723 – Jean Blignaut 
1726 – Francois Guilliaumé (Giliomee).

Die Hugenote het op verskeie plekke grond gekry waar hulle kon vestig.  ‘n paar in die Tafelvallei; sommige in die omgewing van die huidige Somerset-Wes en Stellenbosch.  Die meeste sou grond kry in die Bergriviervallei tussen die huidige Franschhoek en Wellington.  Dit is opvallend hoe daar telkens  ‘n groepie Hugenote gevestig is langs die riviere wat in die Bergrivier invloei.  Hulle het grond tussen die plase van Hollanders gekry omdat die Kompanjie bang was om net Franse in ‘n sekere gebied te vestig – die Franse kon saamspan teen die Nederlandse bewind of dalk met Frankryk konkel.  Aanvanklik is al die Hugenote wat oos van die Kaap gevestig is, beskou as lidmate van Stellenbosch gemeente waar hulle predikant Pierre Simond, wat saam gekom het, die leraar was.  In 1691 het hulle egter  die reg gekry ‘n eie kerkgeboutjie op te rig digby die huidige kerkgebou van Simondium. Hier is hulle vir ‘n aantal jare in Frans bedien.  Later sou die kerkgebou verskuif na die plek waar die huidige Strooidakkerk in die Paarl staan.

Deur die Hugenote wat na die Kaap gekom het, was o.a. die interessante beroepsmense van hulle tyd:

Josue Cellier  -  “landbouwer”, wynmaker en skrynwerker 
Daniel Nortier en Jacques Pinard  -  skrynwerkers 
Daniël Hugot en André Gaucher  -  ystersmede 
Francois Villion & Estienne Bruére  -  wamakers 
Durand Sollier & Jean Cloudon  -  skoenmakers 
Paul Roux  -   onderwyser 
Isaac Taillefert  -  hoedemaker en suksesvolle boer 
Jean Prier du Plessis, Jean Durand, en Paul le Febre  -  “chirurgyns” 
Gideon le Grand   -  “chirurgyn”, tandarts, barrbier
Die begin jare was baie moeilik.  Hulle moes gewoond raak aan die land en die klimaat en daarby moes hulle grond bewerk wat nog nooit voorheen bewerk was nie. Min van hulle het vorige ervaring van boerdery gehad.  Hulle het ook telkens probeleme ondervind met die Politieke Raad.  Dit het moeilik gegaan.  Algaande het hulle vooruit geboer met wingerde, koring, vrugte en vee en het hulle volkome deel geword van ‘n nuwe vaderland.  Binne twee geslagte het die Franse taal aan die Kaap uitgesterf omdat daar na 1700 geen voldoende invloei van Franssprekendes was om die taal te laat voortleef nie, en die gebruik van Frans in amptelike kommunikasie met die owerhede in 1707 verbied was.

En tog sou die invloed en nalewing van die Hugenote op die gebied van godsdiens, vryheid van geloof, kultuur en lanbou tot vandag toe bly voortbestaan in Suid-Afrika. ‘n Baie besondere bydrae was die beryming van ‘n aantal Psalms deur Pierre Simond.  Dit was die eerste literêre en teologiese werk wat aan die Kaap ontstaan het en gepubliseer is.  Dit het in 1704 in Amsterdam verskyn onder die titel Les Veilles Afriquaines ou les Pseaumes de David mis en vers Francois (Die Afrika Nagwake of die Psalms van Dawid in Franse versvorm). 

Vandag roep ons die Hugenote en hulle nalatenskap in herinnering met die pragtige Hugenote Museum en Hugenote Monument op Franschhoek. 

P Coertzen      .  
7 Mei 2008