Hugenote Vereniging van SA
Wie was die Hugenote?
Die Hugenote was Franse Protestante wat lede was van die Gereformeerde Kerk wat in 1550 deur Johannes Calvyn gestig is. 
Johannes Calvyn
Johannes Calvyn (1509 - 1564) 
godsdienstige hervormer.

Die oorsprong van die naam Hugenoot is onseker maar dateer uit ongeveer 1550, toe dit gebruik is in hofsake teen die "ketters" (afgewekenes van die Rooms Katolieke Kerk). Daar is 'n teorie dat dit afgelei is van die persoonlike naam van Besançon Hugues, die leier van die "Konfederale Party in Genéve, in kombinasie met 'n Franse korrupsie van die Duitse woord vir samesweerder of konfederalis, naamlik eidgenosse. Dus het Hugues pluseidgenote mettertyd Hugenoot geword, met die bedoeling om die Protestantse saak te koppel aan destydse ongewilde politiekery.

In sy boek The Days of the Upright, a History of the Huguenots, skryf O.I.A. Roche dat die woord Hugenoot: 

"'n kombinasie is van 'n Vlaamse en 'n Duitse woord. In die Vlaamse hoek van Frankryk was Bybelstudente wat in mekaar se huise by mekaar gekom het om in die geheim te studeer bekend as Huisgenoten, terwyl aan die Switserse kant van die Duitse grens hulle as Eidgenossen bekend gestaan het. Saamgevoeg tot "Hugenoot," 'n woord wat dikwels neerhalend gebruik is, het dit na twee en 'n half eeue van terreur en triomf verander in 'n woord wat eer en heldemoed verteemnwoordig"  (vry vertaal).
As skimp- en skeldnaam is dit selfs verbied deur Hendrik IV (Hendrik van Navarre, wat self vroeër 'n Protestant was) in regulasies wat aan die Edik van Nantes in 1598 gekoppel was. Die Franse Protestante self het aanvanklik niks van die woord gehou nie, en na hulle self as "réformees" (gereformeerdes) verwys. 

Dit was heelwat later dat die naam "Hugenoot" 'n erenaam geword het.

'n Algemene Edik wat die uitroei van die Hugenote aangespoor het, is op 29 Januarie 1536 in Frankryk uitgereik. Op 1 Maart 1562 is ongeveer 1200 Hugenote vermoor by Vassy in Frankryk. Dit was die begin van die Godsdiensoorloë wat Frankryk uit mekaar geskeur, verwoes en bankrot gemaak het vir die volgende drie dekades.

St Bartholomeusnag
St Bartholomeusnag massamoord, 1572 

Gedurende die berugte St Bartholomeusnag van 23/24 Augstus 1572 is meer as 8000 Protestante, insluitende Admiraal Gaspard de Coligny, Goewerneur van Picardy en leier en spreekbuis van die Hugenote, in Parys vermoor.
 

Catharina de Medici
Catharina de 
Medici
Dit het geskied tydens die huwelik van Hendrik van Navarre, 'n Hugenoot, met Marguerite de Valois (dogter van Catherina de Medici), toe duisende Hugenote in Parys saamgetrek was vir die huweliksfees. Dit was Cathararina de Medici wat haar swakkeling-seun, Karel IX, ooreed het tot die massamoord, wat drie dae geduur en na die platteland versprei het. Op Sondagoggend 24 Augustus 1572 het Catharina self deur Parys se strate gewandel om inspeksie van die dooies te hou. Hendrik van Navarre se lewe word egter gespaar, danksy die feit dat hy voorgee om die Rooms Katolieke geloof aan te hang. In 1593 besluit hy om die Rooms Katolieke geloof te aanvaar, en 5 jaar later is hy as koning Hendrik IV (le bon Henri - goeie Hendrik) die onbetwisde heerser van Frankryk.

Toe die eerste gerugte van die massamoord op St Bartholomeusnag die Vatikaan in Rome op 2 September 1572 bereik, was pous Gregorius XIII jubelend en wou hy vreugdevure in Rome laat aansteek.

Hy is oorreed om te wag vir die amptelike bevestiging van die nuus; dieselfde oggend van die dag waarop hy die bevestigende nuus ontvang het, het hy 'n dankdiens gehou en aangekondig dat "dit God behaag het om ons barmhartig te wees". Hy en die kardinale het vervolgens na die St. Markus-kerk verdaag om 'n Te Deum aan te hef, en het gebid en gebede versoek dat die Mees Christelike Koning van Frankryk sy hele koninkryk mag verlos en reinig van die Hugenote plaag.

Op 8 September 1572 is 'n dankseggings-optog in Rome gehou. Die pous het, in 'n gebed na afloop van die mis, God gedank dat hy "die katolieke bevolking 'n glorieryke oorwinning oor 'n verraderlike ras" gegee het  (gloriosam de perfidis gentibus populo catholico loetitiam tribuisti).

Pous Gregorius 13 medalje vir massamoord op HugenoteGregorius XIII het Vasari opdrag gegee om tonele in een van die Vatikaan se lokale te skilder van die triomf van die Mees Christelike Koning oor die Hugenote. Het het 'n medalje laat slaan waarop die engel van verdelging die Hugenote met die swaard uitwis, met die inskripsie:  Hugonottorium strages (Hugenote samesweerders). In Frankryk self het die Franse owerhede bevel gegee dat 'n beeltenis van Admiraal de Coligny verbrand en dankgebede opgestuur en dankseggings-optogte jaarliks op 24 Augustus gehou word, uit dankbaarheid dat God die katolieke die oorwinning oor die Hugenote gegee het. 
   

Hendrik IV van Navarre
Hendrik van Navarre, eertydse Hugenoot, later Hendrik IV
Die Edik van Nantes is op 13 April 1598 deur Hendrik van Navarre onderteken, wat 'n einde gebring het aan die Godsdiensoorloë.Die Hugenote was toegelaat om hul godsdiens te beoefen in 20 gespesifiseerde Franse vrystede. Frankryk is verenig en 'n dekade van vrede het gevolg.

Nadat Hendrik van Navarre egter in 1610 vermoor is, is die vervolging van die "afvalliges" egter weer in alle erns begin onder leiding van Kardinaal Richelieu. Die Hugenote se vrystede het die een na die ander verlore gegaan nadat dit deur kardinaal Richelieu se magte verower is, en die laaste vernaamste en sterkste vesting, La Rochelle, is in 1629 na 'n maandlange beleg prysgegee.

Richelieu
Richelieu, wat die Hugenote met meningvervolg het.
Hendrik IV se swakkelingseun, Lodewyk XIII, het die Hugenote egter die voorregte wat hulle ingevolge die Edit van Nantes geniet het, geweier. Toe hy herinner is aan hul aansprake wat het ingevolge beloftes deur Hendrik III en Hendrik IV, het hy geantwoord: "eersgenoemde monarg het hulle gevrees, en laasgenoemde het hulle liefgehad; ek vrees hulle egter nie en het hulle ook nie lief nie."
Louis XIV die sonkoning
Lodewyk XIV
Lodewyk XIV  (die Sonkoning, 1643-1715) het sy leuse l'état c'est moi (ek is die staat) begin uitleef, en die berugtedragonnades ingestel waardeur dragondersoldate by Hugenote-gesinne ingeboek is. Hy het met 'n beleid van une foi, un loi, un roi (een geloof, een wet, een koning) die Edik van Nantes op 22 Oktober 1685 herroep. Die grootskaalse vervolging van Hugenote het opnuut en met groter felheid begin. 

Protestantse kerke en die huise van "hardnekkiges" is afgebrand en afgebreek, en hul psalmboeke en Bybels is verbrand. Baie Hugenote het op die brandstapel gesterf. Emigrasie is onwetting verklaar. Baie Hugenote wat nie dood is in die plaaslike tronke of deur teregstelling op die martelwiel nie, is lewenslank verband om as galeislawe op Franse galeiskepe te werk, of is aan Turkye as galeislawe verkoop.

'n Duidelike beeld van die lewe as galeislaaf in Frankryk word beskryf in Jean Martheihess se Memoirs of a Protestant, in Engels vertaal deur Oliver Goldsmith, wat die ondervindings beskryf van een van die Hugenote wat gely het na die herroeping van die Edik van Nantes.

Elke plek van aanbidding van die Hugenote is vernietig; elke predikant wat geweier het om te "konformeer" was verban na dieHôpitaux de Forçats by Marseilles en by Valance. As hy bekend was vir sy ywer of as "hardkoppig" gebrandmerk was, was hy lewenslank tot slawerny verban na dié Wes-Indiese eilande wat onder Franse beheer gestaan het. Die kinders van Hugenote-ouers is met dwang van hulle af weggeneem, en deur Rooms Katolieke monnikke of nonne opgevoed in die Roomse geloof.

Hugenote word op die brandstapel verbrand
Tonele soos hierdie was algemeen tydens die vervolging van die Hugenote in Frankryk in die sestiende en sewentiende eeu. 

Ten minste 250 000 Franse Hugenote het gevlug na lande soos Switserland, Duitsland, Engeland, Amerika, Nederland, Pole en Suid-Afrika waar hulle godsdiensvryheid kon geniet. Net soveel is in Frankryk doodgemaak. Tussen 1618 en 1725 het tussen 5000 tot 7000 Hugenote vlugtelinge na Amerika uitgewyk. Die wat afkomstig was vanaf die Franssprekende deel van België, 'n gebied bekend as Wallonië, staan algemeen bekend as Wallone (en nie as Hugenote nie).

Die grootste getal Hugenote vlugtelinge wat na die Kaap van Goeie Hoop gevlug het, het gedurende 1688 - 1689 gearriveer. Selfs voor hierrdie groootskaalse emigrasie het individuele Hugenote vlugtelinge soos Francois Villion (1671) en die broersFrançois enGuillaume du Toit (1686) hulle aan die Kaap van Goeie Hoop gevestig. Teen 1692 was 'n totaal van 201 Franse Hugenote aan die Kaap woonagtig. Die meeste van hulle het hulself gevestig in die omgewing van die huidige dorp Franschhoek, sowat 70 km vanaf Kaapstad, waar vele van die plase nog hul oorponklike Franse naam dra.

'n Eeu later het die promulgering van die Edik van Verdraagsaamheid op 28 November 1787 die burgerlike en godsdienstige regte van die Hugenote in Frankryk gedeeltelik herstel.